Baie jare later
Ek het as plaasjapie in die Ooskaap grootgeword, in die omgewing van Fort Beaufort.
My eerste vyf jaar op die plaas Kroonkop/Grashoek (S32 41.509 E26 47.427) in die Mancazana vallei (Juanasberg), oos van die dorp. Die volgende paar dekades op die plaas Rietfontein (S32 52.386, E26 36.735) in die Gardenersdrif gebied, wes van die dorp.
‘n Tyd gelede het ek daar gaan toer om te sien wat geword het van daardie wereld wat ek 10jaar laas gesien het. Die eerste dag was ‘n toer oor Hogsback, Michelspas en die Katbergpas. Die tweede dag ‘n besoek aan die twee plase waar ek grootgeword het. Hierdie storie is oor die tweede dag – meer geskiedenis en minder motorfiets.
Fort Beaufort 1890 (Thomas Bowler skildery)
Fort Beaufort 2009
Let op: Juanasberg is die heel verste blou berg op die foto.
Kroonkop (1952 – 1956)
Vanaf Fort Beaufort ry jy ooswaarts via Healdtown na Kroonkop. Healdtown was eens op ‘n tyd ‘n skool en ‘n kollege. Op pad soontoe was kaal vlaktes, vandag is daar twee nuwe woongebiede van honderde klein HOP-huise en sinkskuilings. Langs die pad is ‘n baie groot begraafplaas in wording - grafte oral versprei.
Kaal vlaktes is nou meestal begraafplaas
Naby Healdtown is ‘n kort maar besonder mooi pas al langs ‘n kloof.
Kort stukkie mooi pas
Dis nie duidelik wat Healdtown vandag is nie (of wat dit genoem word nie). Die geboue wat ek geken het as die kollege is totaal verwaarloos en in onbruik. Meeste geboue het geen vensters nie en sommige geboue het geen dak nie. Die sportveld staan verlate. Bokant die ou geboue is ‘n nuwe gebou wat lyk soos ‘n kliniek.
Vanaf Healdtown kon jy enigeen van twee paaie ry na die Mancazana vallei waar die plaas Kroonkop aan die voet van die Juanasberg le^. Reguit met die korter maar baie rowwe pad oor Ghagha, of jy kan suid draai in die rigting van Alice en ‘n ent verder oos draai by Qunu, eens ‘n Fingu nedersetting.
Ek wou baie graag die rowwe pad oor Ghagha ry, maar het gou besef dis nou ‘n rooi roete en nie vir alleenry nie. Destyds was dit al “oranje”, nou is dit beslis rooi.
Die rowwe "pad" oor Ghagha, anderkant Healdtown
Ek het toe maar omgedraai en die makliker roete in die Alice-rigting gekies.
Die Fingu nedersetting is nie meer daar nie, maar daar is wel ‘n meer moderne nedersetting ‘n ent nader aan Alice. By die afdraai was destyds ‘n boorgat met ‘n pomp wat werk met ‘n lang hefboom wat mens so al in die rondte stoot, dan loop ‘n straal water in ‘n emmer daar eenkant. Stukke van die pomp staan nog, maar is duidelik lankal ondiensbaar.
Mancazana en die Juanasberg (wat deel is van die Amatola berge) raak sigbaar as jy so oor ‘n vlakte aangery kom van Alice se kant af. Die plaas is op die punt van ‘n kort stukkie rowwe pad aan die voet van die Juanasberg.
Die laaste stukkie pad na Kroonkop, met Juanasberg in die agtergrond
My pa het die opstal in 1951 herbou en dit Kroonkop gedoop. Op die kaarte is dit gemerk as Grashoek. Die foto van die “nuwe” Kroonkop is in 1955 geneem, met die jong GK wat by die tuinhekkie staan.
1955 die ou huis en die herboude huis
Dit is ‘n baie vrugbare vallei, met plase wat kort opmekaar gestaan het, soos plase in die Boland. In die jare 1960 het die regering al daardie vallei se (blanke) plase opgekoop/onteien/oorgeneem en by die Ciskei ingelyf. Van daardie tyd af het die vallei agteruit gegaan.
Op Kroonkop was ‘n groot skuur van sinkplate – vandag is daar nie eens die hoekpale nie. Die woonhuis is steeds daar, maar uiters verwaarloos. Die vensters is van binne toegemaak met kartonne, papiere of stukke blikplaat. Stoepmure stukkend, dak geroes.
Van die bietjie wat mens kan inloer is dit duidelik dat die huis leeg is, behalwe een kamer by die agterstoep. Daarin is twee primitiewe maar netjiese dubbelbeddens en ‘n bedkassie. Die kombuis is ‘n totale hool, badkamer is kaal gestroop, spens is vol stukke yster. Die agterstoep is die nuwe kosmaakplek en ook die slaapplek van drie maer honde. Van die eens netjiese tuin is daar geen teken. Kroonkop se agterstoep
Die fantastiese uitsig op Juanasberg is darem steeds daar. En die baie mooi dam naby die huis is steeds daar.
Uitsig op Juanasberg met sy plantasies dennebome. Ongelukkig baie blou rook in die lug, agv veldbrande.
Van Kroonkop af het ek in die vallei afgery en na bekende bakens gaan kyk. Die afdraai na Tannie Agnes se huis bestaan nie meer nie, maw haar plaas bestaan ooknie. Trouens, nie een van die volgende 5 plase lyk aktief nie.
Die plaasskool by die afdraaipad is ‘n vergete fondasie.
Die drie plase van die Pieterse families is nou spookhuise, van die skure is net fondasie oor. Die droee damme was eens op 'n tyd vol eende, makoue en bleshoenders. Nou niks.
Vervalle plaashuis
n Ou bekende stukkie pad
Eens n mooi opstal, nou totaal vervalle en verlate, soos die ses ander plaas opstalle in die omgewing
Tannie Cretiene se huis en speelskool is vervang met (hoe sal ek se?) n meer byderwetse huis
Tannie Cretienne se plaashuis is ‘n ruine. Hier het ons eens op ‘n tyd voorskool “klasse” gehad op klein gekleurde stoeltjies en tafeltjies. Stories geluister, prente ingekleur en tussen die eende, ganse en kalkoene rondgestap langs die huis. Later het ons ook in die skuur oorkant die huis wegkruipertjie gespeel. Vandag is dit net die ruine van die huis, geen diere en geen skuur meer nie. In die eens mooi voortuin staan nou ‘n blougeverfde modderhuis (met een deur en twee klein vensters).
Van hier af het ek in die rigting van die Katriviervallei gery. Heeltyd gesoek na die indraaipad van die rowwe Ghagha pad. Nerens kon ek dit sien nie. Al wat ek kan dink is dat daardie pad gladnie meer bestaan nie omdat dit deel geword het van plase.
Die pad deur die kloof was goed en die omgewing is mooi al die pad tot by FB, waar ek afgedraai het na Rietfontein.
Op pad het ek by Baddaford se padstal gestop vir brekfis. Daar het ek aan die gesels geraak met ene mnr Wink en sy vrou. Hy het paar jaar terug ‘n padskraper gekoop (‘n Volvo, let wel!) en hy skraap nou paaie op kontrak. (Die afdelingsraad, soos ons dit geken het, bestaan nie meer nie. Skraapwerk word nou op kontrak gedoen). Hy vertel dat hy juis die afgelope week die paaie in Rietfontein se omgewing geskraap het. En dat die hoeveelheid kilometer wat hy met die kontrak se fondse kon skraap, het opgeraak net anderkant die plaas La Motte, teen die opdraand op pad na Windsor plaas. Hy skraap niks meer as wat hulle betaal nie, want jy kry daai ekstra geld nooit terug nie.... Okey, ek sal kyk .... en dis presies waar hy opgehou skraap het, die merke is duidelik, so'n ent op teen Windsor se opdraend!
Rietfontein (1956 - 2001)
Met ‘n knop in die keel het ek op die ou bekende afdraai ingery --- hoe sal Rietfontein lyk? Beter as Kroonkop?
Die afdraai na Rietfontein - vir baie dekades die poort na vrede en vryheid
Die plaaspad was in uitstekende toestand, die beste toestand wat ek dit in baie jare gesien het. Wyd geskraap met baie afleivore vir reenwater. Stewige ryvlak. Mnr Wink doen goeie werk! Die kante van die pad is erg toegegroei met doringbome. Destyds het die afdelingsraad die kante vir veiligheid mooi oopgekap tot teen die draadheining, sodat jy koedoes en wild gouer kon raaksien, veral in donkertyd. Vandag geen sulke diens meer nie.
Rietfontein se opstal verskyn daar onder
Hier is die oostelike grens van die plaas, met die grensheining min of meer so al op die sigbare horison.
Ek was baie aangenaam verras om te sien hoe goed die huis en werf lyk. Die skure is tans onder restourasie. Dis baie lekker om te sien dat dit wat kosbaar vir mens is, in goeie hande is. Aangename en gasvrye mense woon nou in die huis. Hulle is ingeskakel by n reeks wild-plase en safari/avontuur maatskappye.
Rietfontein se wye werf met die groot wildevy boom
Let op die groot wildevy boom links, voor die skuur. Dit was ‘n baba-boompie in 1920 toe dit geplant is, soos te sien op die volgende foto. Die denneboom het ook baie groot geword, maar is ‘n jaar gelede deur ‘n sterk wind vernietig. 1925
Bietjie geskiedenis: Die geboue is rondom 1835 opgerig as deel van Lord Charles Somerset se poging om die Oosgrens te beveilig teen invalle deur die inwoners van die gebied oos van die Kei-rivier. Oral langs die Oosgrens het hy forte gebou by hoofsentra (Grahamstad, Fort Beaufort ens) . Tussenin hierdie forte het hy versterkte vestings gebou, op afstande wat ‘n ossewa in een dag kan trek (Fort Brown, Fort Rietfontein, Fort Wiltchire...). Groot dele van die geboue van Rietfontein is onveranderd sedert daardie tyd. Massiewe klipmure met skietgate op strategiese plekke. Die skure en ‘n lang kraalmuur is alles van klip uit die omgewing gebou.
Oorspronlike buitegeboue, met paar deure ingebreek later jare. Let op die klein skietgate
Die oorspronklike woonhuis - n makgemaakte fort
n Potlood skets van die werf, gedateer 1899
My oupa-grootjie het die grond in 1904 gekoop en later verdeel tussen sy seuns. Hy, en later sy seun (my oupa) het aanbouings gedoen aan die oorspronklike H-vormige woonkwartiere.
n Waterverf skildery van die werf soos in 1982
In 1956 het my eie Pa daar begin boer. Die huis is baie groot – ons het met driewiele in die kamers binne rondgery want my ouers het aanvanklik nie genoeg meubels gehad vir al die kamers nie!
Die werf van vandag. (die groot dam is vol water - dis altyd n groot feestelikheid wanneer dit gebeur)
My broer het later by Pa oorgeneem en tot 2001 daar geboer. Droogtes, rentekoerse, veediefstal en insetkoste het veroorsaak dat hy eindelik ongelukkig moes verkoop.
Die woonhuis soos ons dit ken
Die oorspronklike deel van die huis het geelhout vloere en geelhout plafonne regdeur. ‘n Deel van die een skuur het geelhoutvloer en geelhout balke. Die mure is van soliede klip, halwe meter dik.
Die wagtekamer met dubbelmure. Geelhout oral binne die skure
Die “grootskuur” se een punt is besonders. Dit het dubbelle mure en ‘n kelder. Die kelder is gebruik om gevangenes in toe te sluit solank hulle op die perseel bewaak moes word. Bokant hulle het die wagte geslaap, terwyl die dienswagte binne die dubbelmuur wag gestaan het. Skietgate in die buitemuur was effens bokant kophoogte. Laterjare het Oupa die dak se afleiwater in die kelder laat inloop. Die wildevyboom naby die skuur het dit agtergekom en sy wortels soontoe laat groei, soveel so dat die skuur se oprit aangepas moes word. Die boom se kroon is vandag sowat 30meter van kant tot kant.
In hierdie skure en op hierdie plaas het ek en my broers baie avonture beleef. En my eie kinders laterjare ook. Vlermuise jag, skeertye, wolbale, tarentale, veld, trekker... Ek werk al lankal aan 'n storie oor daai dinge, maar dis nie vir hierdie Forum nie.
Hierdie palmboom was skaars van die grond af toe ek kind was. Die groot wildevy is sigbaar in die agtergrond. Let ook op die klipmuur
Nadat ek die huis en werf goed deurgekyk het, het ek kuier-kuier by verskeie plekke op die plaas vertoef en die atmosfeer ingedrink. Die “boonste veld” is droog en kort gevreet, terwyl die “onderste veld” goed lyk, met goeie weiding.
Die onderste windpomp, al die jare was dit ons swemdam. Van al die waters op die plaas, die mees standhoudend en ook lekkerste.
Van Rietfontein af het ek wes gery verby die plase Rietmond, Sewefontein, Driefontein, Rooihuisie, Edgehill, Vlaknek, La Motte, Prieel en Windsor, tot op die teerpad tussen FB en Grahamstad.
Sewefontein. Hier af, lank gelede, het ek n bakkie byna-byna omgegooi.
n Splash deur die Koonaprivier tussen Sewefontein en Vlaknek
Windsor plaashuis is lank nie meer wat hy eens was
Daar regs gedraai op die R67 teerpad, deur die Eccapas, oor Mandy Flats, deur Bathurst tot in Port Alfred.
Met ‘n lied in my hart het ek die fotos aan my broer en skoonsus gewys. En ook die volgende dag aan my ouers, aan wie ons so dankbaar is vir ‘n fantastiese jeug. Nou meer as ooit.
Dankie Danie ,baie lekker...very interesting read
Baie lekker lees Danie. Ek kan nie verstaan hoe dit toegelaat word dat 'n werkende plaas so vergaan...
Maar die grondpaaie in daai omgewing lyk interesant. Miskien moet die klub 'n rit soontoe vat...
Dankie dat ons kon deel in die goeie herinneringe. Dit lyk na pragtige wêreld. Wat is die beste tyd van die jaar om soontoe te gaan? - onthou ons Kalahari-mense kry gou koud!
Jy is 'n ster Geel Kameel ! ***
Wow Danie, What a great report and trip, Thnaks for all the effort in photgraphy of paintings etc to bring perspective to the area.
I like, I seriously like.
I also would easily go there again.
Trawling thru my photos of our Landy trip their in 2001, I see many similar places and those empty homesteads, many years old tell of heartbreak and sorrow.
Of stock theft and murder.
Of old stock that found it easier to walk off without locking the door to find a new life, rather than to continue to farm backwards.
We traversed those very roads extensively and its a beautiful area.
Well done mate, Well done!!!
Charles: "Maar die grondpaaie in daai omgewing lyk interesant. Miskien moet die klub 'n rit soontoe vat..."
Verseker moet ons! Ongelukkig is dit redelik ver soontoe. Daarom moet ons dit oor 'n paar dae doen. Fantastiese paaie!
Ons kan dalk iets saam met OosLonden se BMW klub reel. Bv dat hulle 'n back-up voertuig gereed hou, dan hoef ons nie van hier af een saam te ry nie. Dis byna 1000km net om by die goeie paaie uit te kom. Ek het nog altyd lus om die Tarkastad/Ugie area te sien. Ek sou se' die beste is om twee of drie nagte op een plek te slaap en dagtoere daarvandaan te maak.
Jep, let us start planning for next year in autumn, miskien? Ek glo klomp ouens sal wil saam!
Pepe: Dit lyk na pragtige wêreld. Wat is die beste tyd van die jaar om soontoe te gaan?
Ek sou se' herfs of vroeg-winter is die beste tyd. Dagtemperature is nie so koud nie. Dis wel kouer soos jy verder noord gaan, maar steeds nie te erg nie. Die dag/nag verskil is kleiner as in die Karoo, so julle is okey... :)
Reentyd is somer, maar winter het ook dikwels reen. Paaie is heel rybaar in gewone reen, maar kan wel baie glad word. Somer is baie warm, veral namiddag.
Dankie, GK.
Dankie Danie - lekker gelees. Mis ek dit of -- hoeveel kilometers het jy gery altesaam?
Ai, ek mis die plaas so vreeslik baie..
JohanM: Mis ek dit of -- hoeveel kilometers het jy gery altesaam?
Die km is inderdaad nerens te sien! Die afstand op die dag was seker so 300km. Maar dis misleidend omdat meeste van die dag bestaan het uit rondstaan en rondkyk. En ek het op die dorp oornag - was dus reeds binne die omgewing toe die son opkom. Die enigste werklike afstand was van die plaas af terug na Port Alfred (200km?).
Terloops, hierdie trip was dieselfde naweek as jou Kenhardt-trip, laas September. En ek het ook die Katberg rondte gedoen die vorige dag.
Heerlik gelees Danie, dankie!!
Cape Storms: Ai, ek mis die plaas so vreeslik baie...
Jip, dis verseker!!!
Onthou jy hierdie? Daai girl in pienk....
iSpingo ("i-spiengho") is die Xhosa vir die droog-my-keel bessie. Dis 'n swart bessie bietjie groter as 'n groot ertjie. Hulle is ryp so teen die begin van die winter. Hierdie spesifieke boom staan in die "middelste kamp". Die bessies aan die bome in hierdie area is buitengewoon groter en lekkerder as op die res van die plaas.
En hierdie?
Wat was die perd se naam nou weer? GS of so-iets....
:)
Nice Danie. Ek wil een van die dae weer 'n trip doen maar wil dan 'n fotografie trip doen. Ek vind die ou plaas huise nogal interesant. Ek sal eers 'n paar korter trips in ons omgewing doen om die huise af te neem - die wat vervalle is of nog staan.
Tx. for sharing. The Eastern Cape is so so beautiful. What is the condition of the Katberg? We did it about 3 years ago and it was pretty rough then.
Should you do that area again please remember me I would love to join you, if you will have me.
Danie, you have set a new standard for trip reporting.
I've talked a long time now about going on a trip to placse armed with "then" photos to take "now' photos from the same spot.
Paul Goddard and Petra van der Casteel did this on their way down Africa and their book/dvd is a wonderful story made special by those photos.
I am starting on the passes but want to retrace steps like you have.
your story is wonderfully told and I'm full of praise for your suiwer Afrikaans.
The bigest slagters of Afrikaans are afrikaners.
They anglicise so much that their ouma's would not understand them.
Especially here behind the boerewors curtain where I work,.
'Capies' have their own flatse Afrikaans, well these types have their own Durbanville dialect, destroyed by anglisismes.
So jou suiwer taal wys weer hoe kleurvol die egte Afrikaans werklik is.
Goed gedaan ou knate! ek het well jou storie baie geniet.
Ek het hom uitgedruk en leun om uit na ander mense om vir hulle uit te beeld net hoekom ons die reis binneland toe so baie geniet.
Jy het rerig 'n muntstuk Afrikaaner geskets wat ons erfinis mooi uit toon en wat vir dekades nog baat sal vind vir resiges.
Mooi voorbeleld vir ons almal.
Weereens 'n duisend dankies.
It was a privilege to read your story.
That was a awsome read. A big thanks for putting it together, I always marvel at old photos and wonder what it must have been like in the old days!!! Increadible.
Dankie vir die toer terug in die verlede.
My hart breek as ek sien wat met ons land gebeur. Dit is in ons almal se belang om ongeregtigheid teen te staan - van waar dit ookal kom.
Liability
Motorsport is inherently dangerous. As per paragraph 9 of the club constitution, the club shall not be held liable for any loss, injury or death of any member or guest, howsoever arising.
The BMW Motorcycle Club Cape cannot be held responsible or liable in any way for any actions or decisions you make as a result of the information posted on this site. Although this site is enabled and used by the BMW Motorcycle Club Cape, posts are made by members, non-members, advertisers and guests and none of it is vetted by the club before posting. This is the internet and Africa - you are responsible for yourself.







